ANCYL: 'Rassistiese DA moet stilbly'
2009-11-10 16:16
Johannesburg – Die ANC-jeugliga het Dinsdag die DA gevra om “stil te bly” en het die party daarvan beskuldig dat hulle klagtes oor die kostes van Julius Malema se sekuriteit rassisties is.
“Die verklarings wat deur die regse politieke partye uitgereik, veral van die DA, in verband met dié vertroulike kwessie, kom duidelik van die rassistiese tradisies van hierdie minderheidspartye,” het die liga in ‘n verklaring gesê.
Dit was in reaksie op ‘n berig uit Rapport wat op News24 gepubliseer is wat getoon het dat Malema spesiale beskerming ontvang wat die belastingbetaler R300 000 uit die sak jaag.
Die ANCYL het berigte oor die kwessie afgepraat en ‘n beroep gedoen op alle verantwoordelike media om op te hou om oor die persoonlike sekuriteit van die ANCYL president te berig, aangesien hulle dit as privaat ag.
“Ons doen ook ‘n beroep op die DA om hul monde te hou en om die demokratiese beginsels, instellings en prosesse van die ANC-regering te respekteer.”
“Ons kan nie help om te glo dat die DA se teenkanting van die ANCYL president se sekuriteitreëlings deur alternatiewe motiewe aangevuur word nie.”
In die berig het polisiewoordvoerder Zweli Mnisi Saterdag bevestig dat Malema spesiale beskerming ontvang.
Patricia de Lille van die Onafhanklike Demokrate het aan die koerant gesê: “Vir iemand wat daarvan hou om kontroversiële uitlatings in die media te maak, is dit lafhartig om nou skielik bang te wees.”
Volgens Dianne Kohler, die DA se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit, is sekuriteit slegs ‘n “modegier” vir die president van die jeugliga.
- Sapa