ANCYL: ‘Persombudsman nutteloos en tandloos’
2011-04-05 23:00
Johannesburg – Die ANC-jeugliga (ANCYL) het Joe Thloloe, persombudsman, Dinsdag “nutteloos en tandloos” genoem en hom daarvan beskuldig dat hy demokrasie ondermyn.
Dít kom nadat Thloloe geweier het om ondersoek in te stel na die voorval waartydens twee koerante Julius Malema verkeerdelik aangehaal het in hulle voorbladberigte.
Volgens Floyd Shivambu, woordvoerder vir die ANCYL, is Thloloe besig om die respek van sy kamerade te verloor.
“Dit is jammer as sommige van die voorheen-onderdruktes die demokrasie en vryheid ondermyn waarvoor ons voorvaarders geveg het,” het Shivambu gesê.
Thloloe wou nie direkte kommentaar op Shivambu se uitlatings lewer nie en het gesê hy weier om so laag te daal.
“Hulle praat van demokrasie en vryheid, maar hulle weet nie eers wat dit is nie. Persvryheid is die hoeksteen van demokrasie,” het Thloloe later bygevoeg.
The Star en Daily Sun-koerante moes verlede week om verskoning vra vir berigte waarin hulle Julius Malema verkeerdelik aangehaal het.
“Die koerante het reeds erken dat hulle verkeerd was en geen verdere ondersoek in die saak is nodig nie,” het Thloloe gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA