ANCYL: Gewere gereed vir media
2010-01-20 23:16
Nelspruit – Die ANC-Jeugliga (ANCYL) in Mpumalanga het omstredenheid veroorsaak toe hulle sekere lede van die media in ‘n verklaring gedreig het.
Isaac Mahlangu, die provinsiale sekretaris van die ANCYL, het Maandag ‘n verklaring wat dreigemente bevat aan City Press gestuur, en Dinsdag aan ander nuusredakteure.
“Ons masjiengewere is gereed,” het die verklaring gelui, en 'n paar onsamehangende dreigemente bygevoeg.
Die verklaring is aan City Press gestuur nadat twee artikels Sondag in die koerant geplaas is wat beweer dat Steven Ngubeni, die ANCYL se adjunk- sekretaris-generaal, tenders aan vriende in Delmas oorhandig het, waar hy tot verlede jaar as munisipale bestuurder gewerk het.
‘n Ander artikel het beweer dat Ngubeni op Nuwejaarsaand in ‘n tref-en-trap-ongeluk in Delmas betrokke was.
- African Eye