ANC wil regbank vinniger transformeer
2012-03-22 09:00
Johannesburg – Die ANC sal alles doen wat hy kan om transformasie van die regbank te versnel.
So het dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep in die parlement, Woensdag op die Menseregtedagvieringe by die Walter Sisulu-plein in Kliptown gesê.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om transformasie van die regbank te bespoedig om te keer dat die regering se pogings om aan die mense dienste te verskaf, belemmer word,” het hy gesê.
Dit kom nadat die appèlhof Dinsdag beslis het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet binne twee weke aan die DA openbaar waarom korrupsieklagte teen pres. Jacob Zuma in 2009 teruggetrek is.
Demokrasie kan ondermyn word deur die howe te nader om enige besluit deur ’n staatsinstelling te hersien, het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, eergister na aanleiding van die appèlhof-uitspraak gesê.
Daar is groeiende en sigbare ontevredenheid in die ANC oor regeringsbesluite wat deur howe omgekeer word.
Zuma het vroeër gesê die regbank moet hom nie by regeringsake inmeng nie en die gevoel bestaan dat ANC-opponente die regstelsel bloot gebruik om die regering te kniehalter.
Zuma het Woensdag in sy toespraak gesê hy raai Suid-Afrikaners aan om hulself te vergewis van wat in die Grondwet staan.
“Ter herdenking van die duisende mense wat deur die jare gesterf het in die strewe na vryheid en menseregte vir almal, het ons baie hard gewerk om ’n progressiewe grondwet te ontwikkel,” het Zuma gesê.
Die ANC meen egter daar is sekere bepalings in die Grondwet wat glad nie met die regering se doelwitte vir ’n ontwikkeling-staat strook nie en dit is nou die gepaste tyd – 18 jaar ná demokratisering – om aanpassings te doen.
Die party beplan ook ’n grootskaalse hersiening van die grondwethof se uitsprake om te bepaal watter rol dit in maatskaplike transformasie speel.
Zuma se toespraak is op grootskerm-TV’s op die Walter Sisulu-plein uitgesaai na honderde mense wat in die son gesit het, terwyl hy sy toespraak in ’n verkoelde konferensielokaal gelewer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad