ANC wil buitelanders keer om grond te koop
2010-10-07 07:15
Kaapstad - Die ANC beplan om ’n moratorium te plaas op die verkoop van grond aan buitelanders om sodoende grondhervorming te versnel.
Dié maatreël, tesame met die nuwe groenskrif oor grondhervorming en ’n rits wetsvoorstelle, gaan oormôre bespreek word op ’n vergadering van die party se maatskaplike transformasiekomitee onder leiding van me. Lindiwe Sisulu. Die Onteieningswetsontwerp is een van die wetsvoorstelle wat bespreek gaan word.
Die gesprekke kan volgens georganiseerde landbou uitloop op ’n “radikale” beleidsverandering en sal duidelikheid gee oor die funksies van ’n beplande grondbestuurkommissie, asook oor voorstelle om landbouers se grondbesit te beperk.
Dít vorm alles deel van die ANC se planne om grondhervormingsbeleid te vernuwe en weg te doen met die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper as voorwaarde vir die regering se aankoop van private landbougrond vir hervormingsdoeleindes.
Die party het op sy onlangse hoofraadsvergadering besluit wetgewing moet spoedig geïmplementeer word terwyl buitelanders se grondbesit beperk word.
Die groenskrif sloer al maande lank te midde van bewerings oor tweespalt binne die ANC oor sommige bepalings. Dit sou aanvanklik in April, toe Mei en later ná WB2010 vir kommentaar bekend gestel word.
“Die grondhervormingsbeleid was tot nou toe in lyn met die witskrif oor grondhervorming van 1996 en die Grondwet...Waarom dit nou skielik nodig is om te verander is onduidelik en ons verwag ’n radikale klemverskuiwing,” het Annelise Crosby van Agri SA se regsafdeling gesê.
Die afhandeling van die groenskrif kom te midde van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se erkenning dat hy gedurende die vorige boekjaar elke denkbare teiken ten opsigte van grondherstel en -hervorming gemis het.
Luidens sy verslag vir die 2009-’10-boekjaar kon die departement nie eens 1% van sy voorgenome meer as 1600 grondeise afhandel nie. Van die 131 eise wat oorweeg is, is slegs 33 afgehandel.
Voorts het hy misluk in pogings om 656000 ha landbougrond aan te koop en kon die regering slegs sowat 240000 ha bekom.
Volgens Annette Steyn, DA-LP en ’n woordvoerder oor grondhervorming, is minister Gugile Nkwinti se departement “in ’n chaos”.
“Nou word die groenskrif, wat hervorming en restitusie gaan rig, op dié department se oordeel gegrond.”
Navrae na Jackson Mthembu en Ishmael Mnisi, ANC-woordvoerders, was onsuksesvol.
- Die Burger