ANC wil Wes-Kaap terugvat, sê Zuma
2011-03-14 07:00
Kaapstad - Die ANC wil eers die Kaapse metropool van die DA terugwen en dan die res van die Wes-Kaap, het pres. Jacob Zuma gesê by die bekendstelling van sy party se provinsiale verkiesingsmanifes.
Die ANC het die naweek sy kandidatelyste vir die provinsies gefinaliseer sonder om bekend te maak wie sy burgemeesterskandidate is.
In die Wes-Kaap is daar sterk sprake dat Cosatu se provinsiale sekretaris, Tony Ehrenreich, tans die voorloper vir die pos is.
Ehrenreich, wat groot aanhang in die provinsie geniet, was Sondag saam met Zuma in die voorste gestoeltes toe hy die party se verkiesingsmanifes by die Dal Josafat-stadion in die Paarl bekend gemaak het.
’n Bron binne die ANC het Sondag gesê die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het reeds besluit oor burgemeesterskandidate vir die metro-gebiede en gaan dit binne dae bekend maak.
Wat die ander gebiede betref, gaan ’n kortlys van drie kandidate deur die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) na die NUK gestuur word.
Intussen is die party se topbestuur, onder wie Zuma, vandag in die Wes-Kaap om die griewe aan te hoor van diegene wat beswaar gemaak het teen die proses wat gevolg is by die onlangse provinsiale konferensie.
Op dié konferensie is Marius Fransman, adjunkminister van internasionale sake, as provinsiale ANC-leier gekies.
Ondersteuners van Fransman se teenstander, Mcebisi Skwatsha, het die proses as ’n “bedrogspul” bestempel.
Die Burger verneem daar is selfs sommige lede wat meen die nuwe PUK moet ontbind word, terwyl ander meen die risiko, kort voor die plaaslike verkiesing, is te groot.
Die ANC het Sondag onderstreep dat as ’n kandidaat se naam bo-aan ’n lys is vir ’n sekere gebied, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat hy of sy noodwendig die burgemeesterskandidaat is nie.
Zuma is volgende Maandag, op Menseregtedag, ook in die provinsie, wanneer hy Athlone besoek.
Volgens hom gaan “lui en korrupte” raadslede en burgemeesters nie meer geduld word nie en munisipaliteite gaan beter gemonitor word om toe te sien dat hulle behoorlike dienste lewer.
Hulle gaan verplig word om werkskepping ’n sentrale deel van hul ekonomiese plan te maak.
- Die Burger