ANC vra vinnige optrede ná Tolo-moord
2011-08-22 19:59
Johannesburg – Die ANC het ‘n beroep op wetstoepassers gedoen om dié wat verantwoordelik is vir die moord op die Cope-LP Jack Tolo vinnig vas te trek.
“Ons is diep betroef oor die verlies van een van die land se struggle-veterane weens sulke sinnelose misdadigheid,” het die parlementêre kantoor van die ANC se hoofsweep Maandag in ‘n verklaring gesê.
Die polisie in Limpopo het vroeër gesê Tolo is by sy huis in Sekhukhune doodgeskiet tydens ‘n struweling met rowers.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi is Tolo, sy vrou en twee kinders deur drie mans met klapmusse vasgebind. Hulle het die huis geplunder en R7 000, juweliersware en vier selfone gesteel.
“’n Struweling het tussen Tolo en een van die rowers ontstaan en hy is geskiet,” het Mulaudzi gesê.
Tolo was een van die eerste ANC-kaders wat ontplooi is om in die parlement te dien ná die 1994-verkiesing.
“Ons vra wetstoepassers om niks onbeproef te laat nie om te verseker dat dié wat verantwoordelik is, die volle mag van die gereg sal ervaar,” het die ANC in die verklaring gesê.
“Hy het in verskeie strukture van die ANC-koukus en die parlement gedien, insluitend as ‘n sweep en as lid van die portfolio-komitee oor korrektiewe dienste.
“Ten tyde van sy dood was Tolo ‘n LP vir Cope, nadat hy ná die 2009-verkiesing by dié party aangesluit het.
“Ons diepe medelye word aan sy familie, vriende en kamerade uitgespreek in hierdie moeilike tyd.”
Volgens Mulaudzi het die rowers ná die skietery weggehardloop en is niemand nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA