ANC vra Zille wanneer sy gaan bedank
2011-09-23 09:04
Kaapstad - Die Wes-Kaapse premier is Donderdag in die provinsiale parlement gevra wanneer sy gaan bedank.
Chris Stali, ANC-LPP, het Helen Zille, premier, gevra oor die betrokkenheid van haar spesiale adviseur by ’n multimiljoenrand kommunikasietender.
Zille het vroeër gesê sy sal bedank indien enige korrupsie uitgewys word en het intussen aangedui haar adviseur, Ryan Coetzee (wat ook die DA se hoofstrateeg is), sal voortaan nie by tenderprosesse betrokke wees nie – ’n verklaring wat nou in sekere kringe as ’n skulderkenning voorgehou word.
Stali wou weet hoekom sy glo opsetlik die publiek mislei het deur voor te gee daar is niks verkeerd met haar spesiale adviseur se betrokkenheid by die bod-evalueringskomitee vir dié tender nie.
Lynne Brown, ANC-LPP, het in haar lidverklaring gister gesê dit is nie die eerste keer dat Coetzee by ’n tender betrokke is en waar dieselfde maatskappy die bod gewen het nie.
Brown het verwys na ’n vorige tenderproses in 2001 toe dieselfde maatskappy ’n tender in die provinsiale regering gewen het en Coetzee, wat toe vir Gerald Morkel, die oudpremier, bygestaan het, glo ook betrokke was.
Zille het Donderdag weer enige korrupsie met die huidige tender ontken en gesê Coetzee was deel van die bodproses op uitnodiging van die provinsiale administrasie sonder dat sy hiervan kennis gedra het.
“Ek het regsadvies hieroor ingewin en daar is niks in wetgewing wat dit onreëlmatig maak nie.”
Zille het voorts gesê sy het dit uit die staanspoor duidelik gemaak daar was administratiewe probleme wat niks met haar direkte betrokkenheid verband hou nie.
“Omdat ek kan verstaan dat ’n adviseur se betrokkenheid met ’n mandaat van sy politieke hoof, wat nie hier die geval was nie, ’n gevaarlike presedent kan skep, het ek dit duidelik gemaak dit sal nie weer gebeur nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger