ANC vier 100 jaar in styl
2012-01-02 19:41
Johannesburg – Die ANC sal hierdie week sy honderdste bestaansjaar vier met 'n groot eeufees wat deur verskeie staatshoofde bygewoon sal word.
Meer as 100 000 mense sal na verwagting in Bloemfontein, waar die ANC op 8 Januarie 1912 gestig is, byeenkom vir dié makietie.
Pres. Jacob Zuma sal onder andere hulde bring aan oudpres. Nelson Mandela en ander helde van die struggle in 'n toespraak by Bloemfontein se sokkerstadion.
Die fees sluit 'n tradisionele seremonie, 'n gholftoernooi en konserte in. Zuma sal ook na verwagting 'n fakkel aansteek wat deur Suid-Afrika sal toer as 'n simbool van weerstand teen apartheid.
'n Diens sal Sondag gehou word in die kerkgebou waar die beweging gestig is, en die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal 'n gedenkposseël uitreik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA