ANC verwerp berigte van Mmemezi se afdanking
2012-07-02 18:40
Johannesburg – Die ANC in Gauteng het ‘n koerantberig verwerp wat Maandag beweer het die Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, beplan om Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising, teen die einde van die maand af te dank.
“Die artikel is onbetroubaar, kwaadwillig, ongegrond en ver van die waarheid,” het die provinsiale woordvoerder, Dumisa Ntuli, gesê.
Die ANC se integriteitskomitee ondersoek tans alle aantygings van die gebruik van die amptelike kredietkaart en voertuig en sal sy eie voorstelle aan die provinsiale uitvoerende komitee maak om die [plan] van aksie te bepaal.”
The Star het berig Mokonyane beplan om Mmemezi af te dank sodra sy terugkeer van ‘n sakebesoek na China.
Die premier het glo die volle ondersteuning van Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, sowel as die party se provinsiale sekretaris, David Makhura, wat Mmemezi se adjunk is.
Nietemin het Ntuli gesê Mashatile en Makhura sal nie ‘n besluit oor die kwessie buite die ANC se grondwetlike strukture neem nie. Nie een van hulle kon optree nie, aangesien die saak nog ondersoek word, het hy gesê.
Xoli Mngambi , Mokonyane se woordvoerder, het vroeër gesê: "Die premier moet daaroor besluit. Ek kan nie bespiegel nie. Die besluit oor LUR Mmemezi is die premier se besluit. Ek is nie in 'n posisie om te bevestig wat die Star berig het nie."
Mokonyane het Maandag na China gevlieg vir ‘n weeklange besoek. Mngambi het geweier om die datum van haar terugkeer te bevestig vir sekuriteitsredes.
Mmemezi was onlangs in die nuus nadat bewerings van finansiële wanbestuur Vrydag teen hom gemaak is. Daar word ook beweer dat hy sy departement se kredietkaart gebruik het om 'n skildery van R10 000 by 'n kitskos-restaurant in Pretoria te koop.
Die skoolseun Thomas Ferreira is in November deur Mmemezi se ampsmotor getref. Ferreira het erge breinskade opgedoen. Die saak word tans in die hof aangehoor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA