ANC 'verstaan nie' inligtingswet-beswaar
2011-05-27 08:05
Kaapstad. – Die ANC het Donderdag voet by stuk gehou oor die behoud van twee omstrede klousules in die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting.
Al die opposisiepartye in die ad hoc-komitee wat daaroor besin – die DA, IVP en ACDP – het hul stemme dik gemaak oor die klousules, maar die ANC – wat die meeste lede in die komitee het – het gestaan by sy besluit.
Klousule 4 van die wetsontwerp handel oor geklassifiseerde staatsinligting wat teen onwettige bekendmaking, vernietiging, verandering of verlies beskerm mag word.
Die daaropvolgende klousule behandel die beskerming van waardevolle inligting.
Dene Smuts, DA-LP, het veral probleme gehad met belangrike inligting wat glad nie in ’n stuk “intelligensiewetgewing” behoort te wees nie.
“Daar is twee soorte staatsinligting wat in dié wetsontwerp behandel word. Een is beskerming teen die bekendmaking van geklassifiseerde inligting.
“Die ander een is staatsinligting wat beskerming benodig, soos waardevolle inligting. Dié wetsontwerp is nie die gepaste plek om normale regeringsinligting te hanteer nie. Dit is eerder die werk van die nasionale argivaris.
“Dit is ’n duplisering en ongesond om dit in die hande van die minister van intelligensie, die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) en ander sekerheidsagentskappe te plaas.”
Cecil Burgess, ANC-voorsitter van die komitee, het gesê hy kan nie verstaan waarom die opposisiepartye teen dié klousule is nie.
Smuts het geantwoord: “Dit is verkeerd dat die NIA en ander sekerheidsagentskappe beheer oor gewone staatsinligting uitoefen. Dit is veronderstel om ’n deursigtige staat te wees.
“Dit is heeltemal verkeerd dat die spooks daar is om gewone rekords te oudit, te beheer, te monitor en advies te gee oor alle staatsdepartemente, sekere ander instellings en selfs soms oor private maatskappye.”
Die wetsontwerp wek kommer omdat dit beskou word as ’n poging om die vryheid van die media aan bande te lê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger