ANC verras met ommeswaai oor Zuma
2010-02-06 06:38
Pieter du Toit
Kaapstad. – Die ANC het gister ’n verrassende tree terug gegee in die vurige nasionale debat oor pres. Jacob Zuma se buite-egtelike kind en gesê die party én sy leier neem kennis van alles wat gesê is en het nou tyd nodig om daaroor na te dink.
Dit is in skrille kontras met die aanval wat Zuma vandeesweek op die media gedoen het toe hy die manier waarop oor die kwessie verslag gedoen is, veroordeel en sy eie optrede verduidelik het.
“Dié belewenis, so pynvol as wat dit mag wees, het ons baie waardevolle lesse geleer. Ons neem kennis van al die bekommernisse en kritiek wat talle Suid-Afrikaners deur die media en in private gesprekke gelug het. Die ANC het dit gehoor. Zuma het ook gehoor en daarna geluister,” sê Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, in ’n verklaring.
Hy doen verder ’n beroep op die publiek en die media om Zuma, sy familie en kinders met rus te laat sodat die president “oor die bekommernisse kan nadink”.
Hoewel die verklaring gister op ’n baie meer bedeesde trant as normaalweg was, het Mthembu nietemin skerp kritiek op Helen Zille, DA-leier, gelewer.
Die party sê Zille se kritiek dat die jongste storm om Zuma se kop ’n bewys daarvan is dat die president sy mag misbruik, is “opportunisties en oneerlik”.
Volgens haar glo Zuma hy is bo normale normes en standaarde verhewe en manifesteer dit in regeringsake, sy geldsake en sy verhoudings met vroue. Zuma se gedrag strook ook nie met die regering én die ANC se pogings om MIV/vigs te bekamp nie en misbruik hy sy kultuur om sy dade te regverdig.
Mthembu meen die party kan nie die korrelasie tussen die geboorte van Zuma se kind en Zille se kritiek op die staatshoof sien nie. Hy beskryf haar argument – dat Zuma diegene wat hom bedreig of teenstaan uit die weg ruim – as misleidend en kwaadwillig.
“Dit is kommerwekkend dat Zille besluit het om die geboorte van ’n klein meisietjie met insinuasies en politiekery af te maak. Ons stem met Zille saam Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie en partye en hul leiers is nie verhewe bo die wet of maatskaplike normes nie.”
Intussen het Duduzane Zuma, een van Zuma se 20 kinders, in ’n verklaring aan Sapa gesê hy en sy broers en susters is gelukkig met die aard van hul pa se poligame huishouding en dat hulle tevrede is om hom met “20 of meer” kinders te deel.
–Beeld