ANC veroordeel Sasolburg-geweld
2013-01-22 17:53
Johannesburg – Die ANC het Dinsdag die plundering en geweld tydens 'n betoging in die Zamdela-woonbuurt in Sasolburg veroordeel.
"Ons grootste bekommernis is die vlak van kriminele aktiwiteit wat plaasvind, insluitend die plundering van winkels," het Jackson Mthembu, woordvoerder, in 'n verklaring gesê.
"Dit sal nie net besigheid in die gebied raak nie, maar ook onskuldige inwoners."
Die geweld, wat Sondag begin het, is veroorsaak deur planne om die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit saam te smelt.
Betogers het Dinsdag probeer om 'n plaaslike polisiekantoor af te brand en 'n motor en winkel aan die brand gesteek.
Die polisie moes vir 'n tweede agtereenvolgende dag rubberkoeëls gebruik om die betogers in bedwang te bring.
Die ANC het die regering en wetstoepassingsagentskappe geprys vir die "spoedige ingryping" en inhegtenisnemings.
"Dit kan nie toegelaat word in 'n moderne samelewing soos dié waarin ons leef nie. Individue met bymotiewe neem... wat 'n vreedsame betoging moet wees en maak dit 'n teelaarde vir kriminaliteit," het Mthembu gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA