ANC vergelyk Steve met Manyi
2011-05-23 08:27
Kaapstad - Praat Steve Hofmeyr namens die DA soos Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, glo namens die ANC uitlatings maak?
Nee, het die ANC Sondag in sy verkiesingsoorsig in die middestad hierop geantwoord. Dit volg op die vraag of Manyi se uitlatings oor bruines ’n faktor in die ANC se vertoning in die afgelope plaaslike verkiesing was.
“Dit dui op diep gewortelde rasse-stereotipes,” het Songezo Mjongile, provinsiale ANC-sekretaris, Sondag gesê.
“Nie elke swart mens wat praat, praat namens die ANC nie. So ook wanneer Steve Hofmeyr rassistiese uitsprake maak, kan ons nie sê hy doen so namens die DA nie.”
Marius Fransman, provinsiale ANC-voorsitter, het die DA gekap vir “rassistiese boodskappe” wat in dié verkiesing gebruik is.
Hy het gesê die DA het ’n goeie stryd gevoer, maar sy taktieke was nie altyd na wens nie. Fransman het verwys na die “vrese wat by bruines ingeboesem is met die Manyi-uitsprake en die nuusdekking daarvan twee maande voor die verkiesing”.
Theuns Botha, DA-leier in die Wes-Kaap, het gesê die DA “het nie ’n saak aan met Steve Hofmeyr nie”.
“Ek weet nie wat hy gestem het nie, maar wat hy met die k-woord gedoen het, bevorder nie versoening nie. Ons het nie Manyi in ons veldtog gebruik nie, maar DA-prestasies. Die rasroete is altyd die kortpad wat die ANC gebruik om mense emosioneel op te sweep. Dit is óns wat Nelson Mandela se versoening wil help uitbou.”
Dat die DA in dié verkiesing veld gewen het onder swart kiesers, terwyl dieselfde nie die geval is vir die ANC betreffende wittes en bruines nie, is Sondag ook afgeskiet.
Mjongile het gesê die ANC se steun is konsekwent onder alle rassegroepe.
“Dit is die DA wat uit die apartheidsloot moet kom. Ons kan nie ’n party hê waarvan die topleiers almal wit is nie. Die DA het sy plafon bereik wat groei betref.”
Ook ontleders was dit eens die Manyi-uitsprake het tot die ANC se vertoning in die verkiesing bygedra.
Kenny Bafo, politieke navorser aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het gesê Manyi se uitsprake en die impak wat dit op bruines gehad het, kan nie onderskat word nie.
- Volksblad