ANC-twis oor Wes-Kaap-leierskap duur voort
2011-02-09 07:45
Kaapstad - Twee dae voor die ANC se Wes-Kaapse kongres is die stryd om die party se leierskap in die provinsie besonder fel.
Nadat die ANC-jeugliga Maandag sy steun toegesê het aan Marius Fransman, adjunkminister van internasionale betrekkinge, gaan die ANC-vroueliga in die provinsie sowel as die militêre veterane hulle na verwagting vandag aan die kant van Mcebisi Skwatsha, LPP, skaar.
Fransman was Dinsdag aan die sy van pres. Jacob Zuma toe die staatshoof ’n dwelmrehabilitasiesentrum in Mitchells Plain besoek het. Zuma gaan na verwagting Vrydag die opening van die kongres toespreek.
Die vroueliga se provinsiale sekretaris, Judy Hermans, het bevestig die organisasie vergader vandag om kandidate op te weeg, maar gaan nie noodwendig die keuses vooraf bekend maak nie.
Die vroueliga het in Desember beswaar gemaak by die Boland-konferensie waar Fransman-ondersteuners die vyf topbestuursposte in die streek gewen het.
Die uitslag is agterna deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ongeldig verklaar.
Fransman is na aan Ebrahim Rasool, voormalige Wes-Kaapse premier, wat ’n bitter politieke stryd met Skwatsha om die leierskap gevoer het. Rasool is nou Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika.
’n Lid van die jeugliga se provinsiale taakspan, Lazola Gungxe, het gister aan Die Burger gesê dié organisasie soek nou “vars bloed” in die leierskorps en ondersteun Fransman om dié rede.
Hy het gerugte ontken dat die jeugliga Fransman se steun in 2012 soek wanneer die nasionale leierskorps verkies word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger