ANC-streeksekretaris in oprit doodgeskiet
2011-07-12 10:05
Johannesburg – Sbu Sibiya, ANC-streeksekretaris in eThekwini, is by sy huis in Inanda, Durban, doodgeskiet, het die polisie Dinsdag gesê.
Brig. Phindile Radebe het gesê Sibiya (40) is omstreeks 22:00 Maandag in sy oprit geskiet nadat hy van sy kantoor in Durban teruggekeer het.
"Hy is in die kop en skouer geskiet. Sy familie het die skote gehoor en na die oprit gehardloop. Die verdagtes het toe reeds gevlug. Hy het op die toneel gesterf."
Dit is nie bekend hoeveel mense by die skietery betrokke is nie.
'n Taakspan is aangestel om vas te stel of die voorval polities gemotiveerd is, het Radebe gesê.
"Ons weet nie wat die motief is nie, maar die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat die voorval polities gemotiveerd is nie."
Niemand is in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA