ANC-stellings wek kommer
2011-12-17 08:00
Kaapstad – Redakteurs is verras en bekommerd oor die jongste stellings van ’n ANC-ringkop oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting.
Raseriti Tau, ANC-LP en voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies se ad hoc-komitee wat die wetsontwerp hanteer, het gesprekke buite die parlementêre proses as ’n belediging vir die parlement beskryf.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Vrydag Tau se mening verwerp en gesê hy verdraai doodgewone gesprekke deur gemeenskapsorganisasies.
“Dis doodgewone praktyk vir organisasies en mense wat bekommerd is oor die invloed van parlementêre wetsontwerpe om hul kommer met ander te bespreek. Sulke gesprekke help om insette tydens openbare voorleggings aan die ad hoc-komitee te verbeter,” aldus Sanef.
Sanef het uitgewys insette vanuit die burgerlike samelewing versterk juis, volgens parlementêre bepalings, die parlementêre proses.
Tau se kritiek het gevolg op ’n ontmoeting met adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, oor die omstrede wetsontwerp.
- Die Burger