ANC skop vas oor sensuurwet
2011-05-26 07:04
Kaapstad - ’n Vertroulike etensuur-vergadering tussen die ANC en opposisiepartye oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting het Woensdag op niks uitgeloop.
Dié informele vergadering is deur dr. Mario Ambrossini van die IVP byeengeroep nadat die regerende party Dinsdag uit die bloute in die parlement aangekondig het hy kan nie toelaat dat debatvoering oor die wetsontwerp “vir ewig” voortduur nie.
Die ANC se skielike haas om die omstrede wetsontwerp deurgevoer te kry skaars ’n week ná die plaaslike verkiesings, is Woensdag wyd bevraagteken.
Die voorsitter van die ad hoc-komitee wat die wetsontwerp bespreek, Cecil Burgess, het Dinsdag aangedui daar sal eenvoudig gestem word oor klousules waaroor daar nie ooreengekom kan word nie.
Dít nadat die ANC die afgelope maande herhaaldelik die versekering gegee het daar sal later geleentheid wees om sensitiewe aspekte van die wetsontwerp grondig te debatteer voordat in geheel daaroor gestem word.
Die wetsontwerp stel onder meer swaar vonnisse voor vir diegene wat skuldig bevind word aan die besit van geklassifiseerde inligting. Dit sluit ondersoekende joernaliste en verklikkers in.
Woensdag se middaguur-vergadering het die hoop laat opvlam dat die ANC en opposisiepartye tot ’n vergelyk sou kon kom oor die proses vorentoe, maar volgens Dene Smuts, DA-LP, het dit op niks uitgeloop.
Ambrossini wou nie aan Die Burger sê of dit enige vrugte afgewerp het nie.
Steve Swart, ACDP-LP, het gesê die ANC moet duidelikheid verskaf of die onverwagse stemmery oor klousules finaal is en of later weer daaroor debat gevoer kan word.
Die wetsontwerp wek kommer omdat dit beskou word as ’n poging om die vryheid van veral die gedrukte media aan bande te lê.
Intussen het die nieregeringsorganisasie Right2Know, asook die Kaapse Persklub, Woensdag luidkeels beswaar gemaak oor die ANC se ommeswaai.
Right2Know se nasionale koördineerder, Murray Hunter, het gesê die wetsontwerp is nie in landsbelang nie en druk op die komitee sal voortgesit word om die spertyd vir debatvoering uit te stel. “
Die komitee beoog om dit voor 24 Junie deurgevoer te kry, maar daar is geen manier waarop hy die reeks onopgeloste kwessies teen daardie tyd deurgetrap sal hê nie. Die ANC wil eenvoudig sy meerderheidstem gebruik om dit deur te druk sonder dat kwelpunte opgelos word.”
Volgens Hunter gaan Right2- Know vandag ’n hernude beroep op burgerlike organisasies en alle partye doen om die wetsontwerp in sy huidige vorm te beveg – selfs tot in die konstitusionele hof.
“Ons sal egter verkies dat dit in die parlement gestop word.”
Hunter glo die ANC het net gewag tot die verkiesing verby is voordat hy die wetsontwerp probeer deurvoer weens vrees dat dit hom stemme sou kos.
Die Kaapse Persklub het ’n pleidooi vir “koel koppe” gelewer en versoek dat die wetsontwerp behoorlik gedebatteer word.
- Die Burger