ANC se plan met media is dwaas, sê Pallo Jordan
2010-11-24 07:35
Die Burger
Kaapstad - Die ANC sal intern aandag gee aan die kritiek wat dr. Pallo Jordan op die party se voorgestelde mediatribunaal en inligtingswet gelewer het.
Só het Jackson Mthembu, nasionale woordvoerder, gisteraand gesê nadat Jordan, ’n senior ANC-lid, die party in die openbaar gekritiseer het.
“Ons sal dr. Jordan nié in die media berispe nie. Indien dit nodig sou wees, sal ons die aangeleentheid intern hanteer.”
Jordan, oudminister van kuns en kultuur en ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het die naweek na bewering op ’n gespreksgeleentheid in Johannesburg te velde getrek teen die ANC se voorgestelde mediatribunaal, asook die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting wat tans voor die parlement dien, berig Business Day.
“Hoe het dit gebeur dat die ANC hom in so ’n hoek kon verf waar dit lyk of die party teen mediavryheid gekant is?” het Jordan gesê.
“Ek sê dit is ’n dwase onderneming. Dit kan nie gedoen word nie, gegewe die kommersiële en tegniese omgewing waarin die media tans bestaan.”
Jordan se jongste uitlatings kom as ’n verrassing. Hy het op die ANC se nasionale hoofraadsvergadering twee maande gelede in Durban die wenslikheid dat die parlement die moontlikheid van ’n mediatribunaal moet ondersoek, verdedig.
Intussen het die DA Jordan se jongste standpunt verwelkom.
“Ons is bly hy het afgesien van die afgesaagde ou mantra dat die ANC verantwoordelik was vir persvryheid,” het Dene Smuts gister in ’n verklaring gesê.
Sy meen die werklike rede vir die ANC se voorstel vir ’n mediatribunaal kan in die party se besprekingsdokumente in aanloop tot sy hoofraadsvergadering gevind word.
“Die ANC se grootste probleem is dat sy eie lede inligting aan die media laat lek. Indien die probleem faksiegevegte en wedywering binne die party is, is dissipline die oplossing – nie om die boodskapper dood te maak nie.”
Smuts het egter ook gesê die gedrukte media kan sy stelsel van selfregulering verbeter.
“Maar daarvoor het hy nie die ANC nodig nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger