'ANC se nuwe moordbende'
2010-10-04 07:20
Kaapstad. – Die Menseregtekommissie (MRK) is die ANC se nuwe politieke “moordbende”, het Helen Zille , DA-leier, gister geskryf.
Die Wes-Kaapse premier het in SA Today, haar weeklikse nuusbrief, geskryf die ANC het die kommissie teen die DA ingespan in aanloop tot die komende plaaslike verkiesing, net soos die Erasmus-kommissie vroeër.
Ebrahim Rasool, voormalige premier, het die Erasmus-kommissie voor die 2008 verkiesings geskep om spioenasie in die Stad Kaapstad te ondersoek.
Die kommissie het die belastingbetaler meer as R6 miljoen uit die sak gejaag en is later as ongrondwetlik bestempel.
Zille skryf die MRK, net soos die Erasmus-kommissie, word onder die waan van grondwetlike onafhanklikheid bedryf.
Volgens haar sorg die ANC se kader-ontplooiing dat instellings soos die MRK lojaliteit aan die ANC eerste stel.
Sy meen talle sulke instellings is eerder ’n uitbreiding van die ANC se magsmisbruik as ’n beperking daarvan.
Zille het haar nuusbrief ook gebruik om ’n paar klappe uit te deel in reaksie op die klagtes oor die DA se hantering van die Hangberg-aangeleentheid wat die MRK nou gaan ondersoek.
Inwoners van Hangberg by Houtbaai het Sondag onder die ANC en Cosatu se vaandel teen verdere uitsettings daar betoog.
Zille het die kommissie se besluit om die verwydering van onwettige plakkershutte teen Hangberg te ondersoek as polities gemotiveerd afgemaak.
“Die onvermydelike vraag nou is of die MRK ondersoeke begin het na voorvalle waar ANC-owerhede slopingspanne ingestuur het.”
Sy het onder meer verwys na die sogenaamde Rooimiere in Johannesburg wat uitsettings daar doen, maar geen bohaai word volgens haar daaroor gemaak nie.
Ook die kommissie se hantering van die toilet-sage in Makhaza (waar toilette gebou is sonder mure rondom) het onder skoot gekom.
Zille het ’n paar steke ingekry na die kommissie se geloofwaardigheid en hom beskuldig van partydige en foutiewe verslagdoening oor Makhaza.
“Die onvermydelike afleiding wat hieruit (die kommissie se bevinding oor Makhaza) gemaak kan word, is dat dié verslag die DA wou verneder tot voordeel van die ANC.”
Sy het ook verwys na ’n klag wat die DA by die kommissie ingedien het oor toilette sonder mure in ’n ANC-beheerde provinsie waarmee die kommissie glo steeds sloer.
- Beeld