ANC se kiesers nie lus vir stem
2011-03-20 08:56
Johannesburg - Kiesers in opposisiewyke is oor die algemeen meer ywerig om te stem in 18 Mei se verkiesing as kiesers in wyke waar die ANC ’n meerderheid het, blyk uit die statistieke vir die twee pas afgelope registrasienaweke.
Dit geld byna oral in die land behalwe KwaZulu-Natal, waar die ANC met ’n reuse-registrasiepoging vorendag gekom het.
Politieke waarnemers hou die registrasiesyfers altyd fyn dop omdat dit aandui presies hoeveel mense op presies watter plekke geregistreer het. Dis ’n vroeë aanduiding van wie in ’n verkiesing gaan groei: die regering of die opposisie.
Veral in plaaslike regeringsverkiesings, waar die algehele stempersentasie gewoonlik laag is, kan goeie registrasiesyfers ’n party ’n groot hupstoot gee: As jou ondersteuners gaan stem en jou opponent se kiesers bly tuis, vaar jy uitstekend in ’n proporsionele stelsel soos Suid-Afrika s’n.
Wanneer dit gebeur – as ’n groter persentasie van een party se ondersteuners registreer as ’n ander s’n – ontstaan ’n differensiaal, en dis wat in hierdie twee registrasienaweke gebeur het.
’n Ontleding van die registrasiesyfers toon dat kiesers in opposisiewyke in die meeste munisipaliteite in groter persentasies as ANC-kiesers geregistreer het. Die differensiaal is dus ten gunste van die opposisie. Dit beteken ANC-meerderhede in ANC-gesinde munisipaliteite kan krimp en DA-meerderhede in DA-gesinde munisipaliteite kan toeneem.
Een van die munisipaliteite om dop te hou, is Potchefstroom, waar die persentasie kiesers wat in DA-gesinde wyke geregistreer het 14,7% hoër is as in ANC-gesinde wyke – grotendeels vanweë ’n groot registrasiepoging deur studente aan die Noordwes-Universiteit.
As die stempersentasie in DA-wyke op 18 Mei hoog is en in ANC-wyke laag, kan die uitslag in Potchefstroom een van die verrassings van die 2011-verkiesing wees.
Opposisiewyke in Pretoria en Bloemfontein is ook reg vir aksie en het teen differensiale van onderskeidelik 10,6% en 10,5% beter as ANC-wyke geregistreer, wat beter vertonings as in die verlede vir die opposisie kan beteken.
In Kaapstad het die sterkste DA-wyke in die noordelike stadsgebiede 9% bo die metro se gemiddeld geregistreer en die sterkste ANC-wyke in die N2-korridor 4% onder die metro se gemiddeld.
Die landwye neiging is omgekeerd in Durban, waar ’n differensiaal van 6% ten gunste van die ANC ’n werklik groot uitslag vir die regerende party voorspel.
Wat die ander metro’s betref, het die differensiaal die opposisie bevoordeel met 6,9% in Oos-Londen, 4,6% in Port Elizabeth, 5,6% aan die Oos-Rand en 4,5% in Johannesburg.
- Rapport