'ANC sal ly as hy Malema uitskop'
2011-09-14 07:03
Johannesburg – Die ANC sal daaronder ly as hy van Julius Malema, ANC-jeugleier, ontslae raak, het Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en broer van oudpres. Thabo Mbeki, Dinsdag gesê.
Te midde van ’n tugverhoor teen Malema en vyf ander lede van die leierskorps van die ANC-jeugliga het pres. Jacob Zuma verlede week aan Business Report gesê die ANC beoog nié om Malema uit die openbare sfeer te verwyder nie.
“Nee, ek dink nie dit moet die doelwit wees nie. Ek dink die doelwit is, hoe help jy Malema? Want Malema het verskeie goeie elemente in hom,” het Zuma gesê.
Volgens Mbeki slaan Zuma die spyker op die kop. “Malema het charisma, iets wat nie baie ANC-leiers het nie. Die regerende party besef dit sal nie wys wees om ’n leier met soveel potensiaal te verloor nie.”
Zuma het egter gesê Malema sal versigtig moet optree as hy ’n toekoms in die ANC wil hê.
“Ons moet Malema help om die regte dinge te doen, want as jy Malema help om die regte dinge te doen, het jy ’n jong man met baie potensiaal wat weet hoe om homself uit te druk.”
Die ANC-jeugliga se tugverhoor is Dinsdag voortgesit nadat die komitee ’n dag lank verdaag het sodat Malema Maandag se uitspraak in die gelykheidshof in Johannesburg kon bywoon. Die jeugleier het egter nooit by die hof opgedaag nie en die ANC kon nie sy afwesigheid verduidelik nie.
Daar was Dinsdag streng veiligheidsmaatreëls en ’n groot aantal polisielede buite die Kliprivier-ontspanningsentrum in Kiblerpark, in die suide van Johannesburg, waar die tugverhoor sedert Sondag gehou word.
Alle ingange na die woonbuurt en die ingang van die sentrum is deur die metropolisie, blitspatrollie, die berede polisie en die polisie se honde-eenheid bewaak.
Die media is nie naby die ingang toegelaat nie.
Na verwagting sou Floyd Shivambu en Sandiso Magaqa, onderskeidelik woordvoerder en sekretaris-generaal van die jeugliga, Dinsdag voor die tugkomitee verskyn het.
Teen druktyd was daar nog geen nuus van die ANC oor wat die tugverhoor opgelewer het nie.
Daniel Silke, ook ’n politieke ontleder, het Dinsdag gesê hy vermoed Zuma wil sy opsies oop hou in die besluit oor wat met Malema moet gebeur.
“Die president is huiwerig om drasties teen Malema op te tree. Hy hoop dalk die Valke en die land se howe sal Malema se toekoms bepaal eerder as die ANC.”
Silke meen dit is onwaarskynlik dat Malema uit die ANC geskors sal word, maar dit beteken nie dat hy skotvry daarvan sal afkom nie.
“Daar is baie ander betekenisvolle maniere om Malema te dissiplineer, terwyl ’n besluit om hom te skors spanning binne die ANC kan laat opvlam.”
Niemand se posisie in die regerende party is egter in dié stadium gewaarborg nie, het Silke gesê.
“Nie eers die president se volgende tien jaar in die ANC is verseker nie. Dít het ons uit Polokwane geleer.”
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het Dinsdag bevestig dat die ANC teen regter Colin Lamont se uitspraak in die gelykheidshof gaan appelleer.
“Daar is nie ’n manier dat ons dié saak sal los nie.”
Hy het gesê die party is besig om sy papierwerk agter mekaar te kry voordat hy sy aansoek om appèl sal indien.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad