ANC ruk Malema in die bek oor ‘Skiet die Boere’
2010-04-07 06:28
Politieke redaksie, Beeld
Kaapstad - Julius Malema mag nie meer die woorde “Skiet die Boere” as deel van ’n omstrede struggle-lied sing nie.
Hy mag ook geen uitspraak oor die vermoorde Eugène Terre’Blanche maak of enigiets doen wat opruiend is nie.
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het gisteraand aan Beeld bevestig hy en pres. Jacob Zuma het die ANC-jeugleier onder vier oë gehad.
“Ek kom nou net van Mahlamba Ndlopfu (die staatshoof se ampswoning in Pretoria) af, waar ek aan hom gesê het om hom te weerhou om uitlatings te maak wat opswepend is.
“Hy mag die liedjie (‘Ayesab’ Amagwala’) ook nie volledig sing nie,” het Mantashe gesê.
“Daar sal na afloop van ons gesprek met Malema baie duidelike uitkomste rondom hom wees. Mense sal kan sien wat die effek gaan wees.
“Die ANC, ook die jeugliga, gaan hom inhou.”
Hy het gesê indien die sing van die woorde “Skiet die Boere” lei tot polarisasie in die samelewing, die ANC die sing daarvan sal staak.
Die besluit sal egter uitsluitlik deur die ANC en ná interne gesprekvoering geneem word “omdat dit ons as regerende party is wat die samelewing lei. Ons is egter daarvan oortuig ’n politieke oplossing, eerder as om hof toe te gaan, sal ’n holistiese oplossing bied.
“Ek is geen beskermer van Malema nie, maar die irritasie wat hy veroorsaak en die probleem... moet geïsoleer en opgelos word.”
Met verwysing na Malema se uitlatings in Zimbabwe oor nasionalisering en grondhervorming, het Mantashe gesê “dit is bloot Malema se wense, dis nie ANC-beleid nie”.
-Beeld