ANC-produkte nie in SA vervaardig
2012-12-28 10:15
Kaapstad – Die hemde, pette, komberse en ander memorabilia en toebehore wat by die ANC se Mangaung-konferensie verkoop is, is ingevoer en nie plaaslik vervaardig nie, berig Die Burger.
Dít terwyl die ANC se beleidsdokumente wat vroeër vanjaar in Midrand vir die Mangaung-konferensie opgestel is, bepaal het dat dié produkte plaaslik vervaardig moet word.
“Ons verbintenis tot plaaslike vervaardiging behels alle mate-riaal wat by ANC-konferensies versprei word. In dié opsig moet die memorabilia wat by die ANC se 53ste nasionale konferensie versprei sal word, in Suid-Afrika vervaardig word,” het die beleidsdokument, wat in Junie opgestel is, bepaal.
'n Ondersoek in Mangaung het aan die lig gebring dat selfs die hemde, soortgelyk aan dié wat pres. Jacob Zuma by sy openingsrede gedra het, in Pakistan vervaardig is.
Talle ander bykomstighede – wat nog toegedraai uit drasakke gehaal is – kom van Indië af.
Lionel October, direkteur-generaal van handel en nywerheid, sê dit was moontlik net ’n tydgebrek wat daartoe gelei het dat dié produkte ingevoer is.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter