ANC probeer aandag aflei, sê Zille
2013-01-23 14:08
Johannesburg – Die ANC probeer om die aandag af te lei van die feit dat miljoene rande van staatsbeheerde maatskappye gebruik word vir 'n reeks New Age-ontbyte, het Helen Zille, DA-leier, Woensdag gesê.
City Press het Sondag berig drie van die land se grootste maatskappye in staatsbesit dok miljoene rande op om sake-ontbyte van die Gupta-familie, boesemvriende van pres. Jacob Zuma, te finansier.
"Dit [Telkom se betrokkenheid] was nie 'n borgskap nie. Wanneer iemand aanbied om 'n geleentheid te borg, betaal hulle 'n gedeelte van, of al die kostes," het Zille gesê.
"Dit het nou aan die lig gekom dat die koste meer is as wat die kaartjieverkope gedek het. So hoekom het Telkom R1 miljoen gegee aan 'n private maatskappy, wat deur 'n groot skenker van pres. Jacob Zuma en die ANC besit word?"
Zille het gevra of die borgskap bloot 'n gerieflike dekmantel hiervoor is.
Die ANC en sy vroueliga het vroeër 'n verskoning van Zille geëis en haar daarvan beskuldig dat sy gejok het, deur te sê sy het nie geweet Telkom was 'n borg by 'n ontbyt wat sy verlede jaar bygewoon het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA