ANC ontken Eskom-gerugte
2009-12-09 16:23
Kaapstad – Die ANC het Woensdag gerugte ontken dat hulle Eskom versoek het om hul tariefverhogings stil te hou tot ná die verkiesing in April vanjaar.
“Die ANC is geskok oor ‘n berig in verlede week se Mail and Guardian waarin beweer word dat Jacob Maroga, Eskom se gewese hoof, gevra is om Eskom se massiewe tariefverhogings tot na die verkiesing uit te stel,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die party, gesê.
“Ons wil graag op die rekord sê dat die bewerings onwaar is. Niemand het Maroga ooit versoek om die aankondiging tot na die verkiesing uit te stel nie,” het Mthembu gesê.
Volgens Mthembu het die berig in die koerant dit laat blyk dat die ANC saamstem met die tariefverhogings en dat hulle die aankondiging wou vertraag in die hoop om steeds stemme te werf vir die verkiesing.
“Hierdie is glad nie die waarheid nie. Ons glo nog altyd dat die verskaffing van energie 'n land moet verbeter en nie verswak nie. Dit moet ook nie ‘n negatiewe impak op die ekonomie hê nie.”
Mthembu het ook beweer dat die joernalis nie die ANC se kommentaar oor dié spesifieke bewerings gevra het nie.
–Sapa