ANC nooi OD-lede om aan te sluit
2010-08-17 10:00
Volksblad
Kaapstad - Die ANC het OD-lede wat “woedend” is omdat hulle deur hul partyleiers “uitverkoop” is, genooi om by hom aan te sluit.
“Die insluk van die OD deur die DA sal dieselfde weg volg as die destydse DA-NP-huwelik,” lui ’n ANC-verklaring.
Die regerende party het voorts hierin te velde getrek teen Helen Zille, DA-leier, wat Sondag ’n memorandum van verstandhouding met Patricia de Lille, OD-leier, onderteken het.
Dié ooreenkoms maak onder meer voorsiening vir dubbele lidmaatskap vir OD-lede, wat die weg sal baan vir volle integrasie teen 2014.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het teen Zille uitgevaar oor wat hy haar “desperate poging” noem om die “insluk” van die OD deur die DA te regverdig.
Volgens hom het Zille haar beroep op die verspeiding van “misleidende leuens” oor korrupsie wat floreer onder ANC-beheer en dat die Grondwet bedreig word.
“Dié afgesaagde voëlverskrikker-taktiek was nie volhoubaar vir Cope nie en dit sal nie die DA-OD-huwelik bymekaar hou nie.
“Alle regdenkende en behoorlik ingeligte mense weet die ANC-regering het dit modieus gemaak om korrupsie te beveg en daaroor te praat. Ons het ’n groot arsenaal van instrumente om korrupsie binne die staat te beveg, en hulle voer hul take uiters doeltreffend uit sonder enige gunste of gawes.”
Zille het in reaksie gesê die ANC is ’n party wat agteruitgaan.
“Ons is ’n party wat groei en hulle gaan agteruit – juis omdat hulle geen filosofie meer het nie, net selfverryking. Korrupsie en die ANC is nou sinoniem. Die eerste woorde waaraan jy dink as jy ANC hoor, is korrupsie, selfverryking en baantjies vir boeties.”
De Lille het gesê sy sal kritiek net ernstig opneem as dit uit ’n geloofwaardige oord kom. “Die ANC het glad nie geloofwaardigheid nie.”
- Volksblad