ANC-moordbeskuldigde laat vaar borgtogaansoek
2012-09-19 14:16
Durban – ‘n Man wat daarvan beskuldig is dat hy die moord op twee leiers van ‘n ANC-tak beplan het, het sy borgtogaansoek in die Port Shepstone-landdroshof Woensdag laat vaar.
Samuel Cele (34) sou na verwagting aansoek doen om borgtog, maar sy prokureur, Dru Ramsamy, het aan die landdros Karen Scheepers gesê die “borgtog[aansoek] sal tydelik verwerp word en in ‘n latere stadium oorweeg word.”
Sy verskyning kom ‘n dag nadat sy medebeskuldigde, Sifiso Mhumalo (31), Dinsdag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof tot tot 22 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op Dumisani Malunga.
Die twee is aangekla van die moorde op die ANC-tak se sekretaris, Cheki Chiliza, en die voorsitter, Dumisani Malunga.
Malunga (42) en Chiliza (39) is verlede Sondag doodgeskiet toe hulle omstreeks 21:30 in die Oshabeno-gebied gery het.
Khumalo en Cele is verlede Maandag in hegtenis geneem.
Khumalo, wat die plaaslike tak-voorsitter van die ANC-jeugliga in Port Shepstone is, het skuldig gepleit, terwyl Cele onskuldig gepleit het toe die twee verlede Woensdag in die Port Shepstone-landdroshof verskyn het.
Luidens ‘n verklaring deur Khumalo het hy en Cele gereël dat ‘n sluipmoordenaar Malunga moet doodskiet.
Wat hulle nie geweet het nie, wat dat die sluipmoordenaar Malunga en Chiliza saam gevind het en besluit het om hulle beide dood te skiet.
Kol. Vincent Mdunge het Dinsdag gesê die polisie is nog op soek na die skieter, maar sê hulle weet wie dit is.
Die Port Shepstone-landdroshof was volgepak met ANC-ondersteuners en joernaliste.
Sommige van die ondersteuners het plakkate gehad wat sê: “Geen borgtog. Vrot in die tronk” en “Politieke lafaards moet in die tronk vrot”.
Die saak is tot 14 November uitgestel om die polisie tyd te gee om hul ondersoek af te handel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA