'ANC moet nou vat wat kom'
2011-03-31 05:54
Kimberley – Kort nadat hy Woensdag in die Kimberleyse landdroshof van die onwettige besit van wapens en ammunisie aangekla is, het ’n regse leier gesê weens die toename in plaasmoorde moet “die ANC nou vat wat kom”.
In ’n verklaring word “wraakaanvalle” ook geopper.
André Visagie (47), ’n oudleier in die AWB en “leier van die Geloftevolk Republikeine”, is op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy Dinsdag by sy huis in hegtenis geneem is.
Dit was nadat sy huis in Andréstraat 15 in Heuwelsig heeldag deur verskeie eenhede van die polisie deurgesoek is. Volksblad het Woensdag oor die klopjag berig nadat tientalle polisievoertuie voor die huis opgemerk is.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, kol. Vishnu Naidoo, is beslag gelê op onder meer 14 vermoedelik gesteelde selfone, twee skootrekenaars, een persoonlike rekenaar, sowat 650 patrone van verskeie kaliber, vyf handgemaakte gewere, een ongelisensieerde 9mm-pistool, een selfoon wat aan drade gekoppel is (moontlik ’n afstandbeheerde afsetter vir ’n ploftoestel), verskeie monsters van vermoedelik plofstowwe, buskruit en ’n aantal dokumente.
In ’n verklaring Woensdag laat deur “die kantoor van die Geloftevolk Republikeine”, wat deur Visagie per e-pos gestuur is, sê hy die organisasie het verlede jaar gewaarsku dat as plaasmoorde nie afneem nie, sal sy leiers nie lede ontmoedig om wraakaanvalle te doen nie.
“Daar was onlangse waarskuwings deur die Leeubrigade se leier dat ’n tweede Bloedrivier op pad is, wat deur die regering geïgnoreer word.
“Dus moet die ANC nou vat wat kom,” lui die verklaring.
Die Leeubrigade is ’n ander regse organisasie wat op ’n video op die koerant Sondagse webtuiste waarsku dat die bloed gaan vloei en dat ’n tweede Bloedrivier op pad is
Die nasionale polisiekommissaris, genl. Bheki Cele, het die intelligensie-eenheid van die polisie geloof vir sy werk en die inhegtenisneming.
Dit volg op ’n intelligensie-operasie van die eenheid teen terrorisme oor die bedrywighede van die verdagte.
Visagie is vrygelaat op voorwaarde dat hy hom elke Maandag by die Kimberley-polisiekantoor aanmeld. Visagie mag ook nie die Kimberley- en Jacobsdal-distrik sonder toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.
Die saak is deur landdros Lunga Mbetane tot 20 Mei uitgestel. Die aanklaer was adv. Sean Abrahams van die Nasionale Vervolgingsgesag.
Visagie is deur adv. Sakkie Nel verteenwoordig.
Visagie het bekendheid verwerf toe hy verlede jaar op e.tv se Africa 360-program in ’n debat met die politieke kommentator Lebohang Pheko uitgestorm het.
Hy het verlede jaar uit die AWB bedank ná ’n leierskaptwis met Steyn van Ronge, leier van die AWB. Visagie het toe die Geloftevolk Republikeine gestig.
- Volksblad