'ANC moet hand in eie boesem steek'
2011-05-29 11:00
Johannesburg - Pres. Jacob Zuma sê die ANC moet baie ernstig besin oor waarom minderheidsgroepe in Suid-Afrika nie vir dié party stem nie.
Zuma en die ANC se topbestuur in Pretoria het die afgelope week nabetragting gehou oor die pas afgelope munisipale verkiesing – en veral oor die feit dat hul steun in talle gemeenskappe landwyd afgeneem het.
“Ons moet nie ons koppe in die sand steek nie, ons moet baie eerlik met onsself wees. Hy (Zuma) het gevra vir ’n bespreking waar geen doekies oor dié kwessie omgedraai word nie,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, volgens Sapa gesê.
In die Wes-Kaap het die DA die ANC in die stof geloop, terwyl die ANC se verbete poging om Midvaal in Gauteng by die DA af te vat, ook misluk het.
Die ANC het ook beduidende steun in Gautengse gebiede soos Eldoradopark en Lenasia aan die DA afgestaan.
Verder kon die ANC geen wyke in die noordelike voorstede van Johannesburg en die Oostelike voorstede van Pretoria verower nie.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, en Paul Mashatile, Gautengse voorsitter, het die afgelope week ook hul kommer oor verminderde steun in bruin-, Indiër- en wit gemeenskappe uitgespreek.
Volgens Mantashe het die ANC se steun egter met 2% in die Wes-Kaap tot 34% gegroei.
Intussen het die ANC ook terruggekrabbel oor sy beloftes om raadslede wat voor die plaaslike verkiesing op ’n bedrieglike wyse op sy kandidaatlyste beland het, te verwyder.
Zuma het vóór die verkiesing – nadat ANC-lede oor die hele land heen hieroor betoog het – gesê mense wat ontevrede was met die omstrede kandidate moes steeds vir die ANC stem. Hy het onderneem om ná afloop van die verkiesing dadelik die omstrede kandidate te laat verwyder.
Baie nuwe burgemeesters en raadslede wie se name egter op dié lyste verskyn het, is reeds die afgelope week in hul nuwe poste bevestig.
Mantashe het gesê ’n taakspan onder leiding van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, en ses ander ANC-leiers sal die klagtes oor lyste nou eers ondersoek vóórdat daar opgetree word.
“Daar sal geen spertyd wees vir die taakspan se ondersoek nie. Hulle gaan hul tyd vat, deeglike werk doen en goeie aanbevelings maak op grond van inligting wat hulle ingesamel het.”
Intussen woed ’n nuwe geveg binne Cope oor koalisie-vorming in sommige munisipaliteite. Een faksie wil met die DA saamwerk.
Die Mosiuoa Lekota-faksie sê hulle is die wettige leierskap en dat daar met die DA saamgewerk sal word, terwyl die Mbhazima Shilowa-faksie met die ANC wil saamwerk.
Sulke koalisies kan die magsbalans in sommige munisipaliteite na óf die ANC óf die DA laat swaai.
- Rapport