ANC moeg vir preke oor vry media, sê Zuma
2010-11-01 06:50
Die Burger
Stellenbosch - Die ANC gaan deurdruk met sy resolusies wat bepaal dat die moontlikheid van ’n mediatribunaal vir die gedrukte media ondersoek moet word, het pres. Jacob Zuma gesê.
Adj. pres. Kgalema Motlanthe het twee weke gelede in Noordwes gesê het die ANC sal van sy voornemens afsien as die Suid-Afrikaanse Persraad se hersiening van die persombudsman-stelsel voldoende is. Die ANC het egter vinnig gereageer en ontken dat hy van dié plan gaan afwyk.
Zuma, wat Saterdag die 66ste verjaardagvieringe van die ANC-jeugliga by die Cloetesville-sportterrein bygewoon het, het gesê ’n tendens het in die land posgevat – mense dink hulle kan lesings oor menseregte aan die ANC gee.
Selfs mense en organisasies met geen rekord dat hulle vir menseregte geveg het nie, meen nou hulle weet beter en voel hulle moet die land en sy mense teen die ANC beskerm.
Hy het daarop gewys dat die ondersoek na die voorgestelde mediatribunaal reeds in 2007 op die ANC se nasionale konferensie in Polokwane aanvaar is.
Die party se hoofraadsvergadering het in September besluit die parlement moet kyk na transformasie in die gedrukte media en die “wenslikheid” van ’n mediatribunaal om die gedrukte media te reguleer en sanksies teen oortreders in te stel. Die ANC gaan voort om albei resolusies te verwerk.
“Ons het ’n weersin in die huidige preke dat die ANC skielik vasbeslote is om inbreuk te maak op die vryheid van die media. Die ANC het vir mediavryheid geveg en sal dit altyd bevorder en beskerm. Enige samelewing sonder ’n vrye media is ’n gevaarlike samelewing omdat dit altyd ’n geleentheid bied vir menseregteskendings en ander maatskaplike euwels.”
Mediavryheid moet volgens Zuma behoorlik gedefinieer word. “Dit behoort te beteken dat die media vry is van kommersiële en politieke belange en dat die landsbelang sy uitsluitlike motief is.”
Kwessies soos die diversiteit van eienaarskap en personeel is belangrik – só ook toegang tot die media vir die armes en dié op die kantlyn. Die stories van armes haal selde die nuus, tensy dit gesien word deur die oë van dié wat magtig is.
’n Volgehoue debat is dus nodig oor die vryheid van die media en wat dit vir Suid-Afrika beteken. “Gelukkig is die media ook te vinde vir dié volgehoue debat.”
- Die Burger