ANC misluk in stryd teen Vigs in KZN
2009-11-30 19:13
Johannesburg - Die ANC in KwaZulu-Natal het erken dat die party besig is om te misluk in hul stryd teen MIV/Vigs én het te veel op die regering staatgemaak.
“As leiers van die samelewing, moet die ANC gesien word as aktiewe vegters teen MIV/Vigs,” het die provinsiale uitvoerende komitee (PEC) Maandag luidens ’n verklaring ná hulle maandelikse vergadering gesê.
Die provinsie wil hê die ANC moet ’n "alomvattende plan van aksie" hê om die virus te takel.
“Die plan moet kwessies insluit soos die misbruik van alkohol wat lei tot onbeskermde seks onder mense en veral ons jeug,” het die komitee gesê.
“As die ANC, glo ons ook dat drastiese stappe geneem moet word om te verseker dat almal hulle status ken.”
Ons gaan ’n beroep op die regering doen dat dit verpligtend raak om getoets te word sodat daar so gou as moontlik met die mediese behandeling begin kan word.”
-Sapa