ANC, media takel mekaar Dinsdag
2010-08-08 12:20
Jan-Jan Joubert, Suné Kitshoff
Rapport
Johannesburg - Die volgende ronde in die media se stryd teen die voorgestelde mediatribunaal vind Dinsdag by die geskiedkundige Lilliesleaf in Sandton plaas.
Lilliesleaf is die plaas waar ANC-lede op 11 Julie 1963 in hegtenis geneem is en dokumente met planne om die land met geweld oor te neem, gekonfiskeer is.
Dit is hierheen wat die ANC die media genooi het om Dinsdag in gesprek te tree oor die ekonomiese en mediavoorstelle wat voor die ANC se nasionale algemene raad sal dien.
Hiervan is die mediatribunaal, ’n liggaam wat deur politici aangestel sal word om die media te reguleer, die mees omstrede.
Alle verwagtings is dat dit ’n stram gesprek tussen die ANC-verteenwoordigers onder leiding van die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en mediaverteenwoordigers sal wees, tensy die ANC sy standpunt hersien.
Terwyl verskeie ANC-gesinde formasies die afgelope week onversetlik in hul steun vir die mediatribunaal was, het die kabinet Donderdag ’n meer versoenende toon aangehef.
Van pres. Jacob Zuma se voorneme om met redakteurs te vergader om die lug te suiwer, het egter tot dusver blykbaar nog dadels gekom.
Die burgerlike gemeenskap het ook sy stem begin dik maak teen hierdie poging tot ’n polities gedienstige media, met die Freedom of Expression Institute (FXI) wat sy algehele teenkanting teen die beplande tribunaal uitgespreek het. Namens die FXI het Ayesha Kajee gesê die beplande tribunaal, asook die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Inligting is onvanpas.
Die DA het intussen een van sy groot kanonne, Dene Smuts, afgevaardig om die wetsontwerp in die parlement te bestry.
Smuts, wat in die verlede al ’n paar veldslae vir spraakvryheid gewen het, meen die skade kan nog parlementêr beredder word.
En in wat prof. Anton Harber van die Universiteit van die Witwatersrand as die sterkste voorbeeld ooit van eensgesindheid teen sensuur beskryf, het 36 koerantredakteurs in ’n gesamentlike verklaring hul teenstand teen die mediatribunaal en die wetsontwerp uitgespreek.
Dié verklaring verskyn op bl. 25 van vandag se Rapport. Die enigste groot media-instansie wat dit nie onderteken het nie, is die SAUK.
Volgens Harber was daar met die vorige sensuurstryd teen die apartheidstaat nie soveel eensgesindheid nie, want sommige publikasies het die sensuur gesteun.
“Uiteindelik sal die Grondwet, soos geïnterpreteer deur die konstitusionele hof, bepaal of die regering die voorstelle kan deurvoer. Intussen is dit nou tyd vir almal wat grondwetlikheid voorstaan om hierdie vergrype te teen te staan,” het Harber gesê.