ANC looi Mbeki ná hy Zuma kritiseer
2011-07-28 09:00
Kaapstad – Die ANC en die presidensie het Woensdag heftig kapsie gemaak teen Moeletsi Mbeki se jongste kritiek op president Jacob Zuma en sy uitlatings as “oneerbiedig” en “onopreg” bestempel.
“Moeletsi Mbeki se politieke wortels lê by die ANC, maar hy het eerder besluit om die edel beginsels van sy oorlede pa, Govan Mbeki, te verraai,” lui die ANC se verklaring.
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het namens Zuma gereageer en gesê politieke ontleders behoort die staatshoof te kritiseer op grond van die werk wat hy doen en hom nie persoonlik aan te val nie.
Mbeki, ’n politieke ontleder, skrywer en broer van oudpres. Thabo Mbeki, het Dinsdag in Kaapstad op twee afsonderlike geleenthede onder die Zuma-regering ingeklim en prontuit gesê Zuma is onbevoeg om die land te regeer.
Hy het by ’n byeenkoms van die Kaapse Persklub aangevoer Zuma het nóg die wil nóg die vermoë om Suid-Afrika se ekonomiese en politieke probleme op te los.
Later die aand, by die bekendstelling van sy nuwe boek, Advocates for Change, het hy die opkomende elite, onder wie senior staatsamptenare en die begunstigdes van swart ekonomiese bemagtingstransaksies (SEB), gekasty omdat hulle die ekonomie “in die rigting van ’n vreetkultuur” stuur.
“Korrupsie binne die regering vier hoogty,” het Mbeki gesê en bygevoeg dit verbaas hom nie dat jong mense sê hulle wil óf politici word óf SEB-vennote wees nie.
Die ANC is veral ontsteld omdat Mbeki gesê het die regerende party is nié die toekoms van Suid-Afrika nie en dat dit vir Zuma bloot om ’n “gesing en ’n gedans” gaan.
“Ons wil by Moeletsi weet of hy dink die talle Suid-Afrikaners wat die ANC ’n meerderheidstem van 64% in die plaaslike verkiesings besorg het dwase is.”
Maharaj het in reaksie op Mbeki se kritiek oor Zuma se hantering van die verdoemende verslag van die openbare beskermer oor die huur van polisiegeboue (waarby die polisiehoof en minister van openbare werke betrek word) gesê: “Die president móét die korrekte prosedure volg. Hy kan nie op ’n lukrake wyse met so ’n verslag omgaan nie.”
Volgens die ANC is Mbeki se kritiek nie op feite gegrond nie, maar word dit aangedryf “deur ’n diepgesetelde haat jeens die party en sy leiers”.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger