ANC lê klag teen Helen Zille
2012-11-22 06:50
Kaapstad – Die ANC in die Wes-Kaap het Woensdag 'n klag van aanhitsing tot geweld teen die provinsie se premier, Helen Zille, gelê en voer aan dat sy die onlangse onluste in die Wes-Kaap aangevuur het.
Songezo Mjongile, provinsiale sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, Pierre Uys, provinsiale hoofsweep en Pat Marran, die party se voorsitter in die Boland, het die klag Woensdagmiddag by 'n polisiestasie in Kaapstad ingedien.
Die gewelddadige betogings, wat in De Doorns begin het, het tot grootskaalse saakbeskadiging en die dood van twee mense gelei.
Die ANC het Zille gekritiseer vir haar optrede en uitlatings op sosiale netwerke tydens die onluste.
Zille het glo op haar Twitter-profiel getweet dat die betogings deur 'n skeuring tussen seisoenale werkers van Lesotho en Zimbabwe aangevuur is.
Die ANC voer aan dat Zille ook gesê het dat 'n politieke agenda die oorsaak van die betogings was.
Zak Mbhele, Zille se woordvoerder, sê die premier is nie skuldig aan aanhitsing nie.
“Niks wat die premier rakende De Doorns gesê het was aanhitsing nie. Sy het bloot die feite van die situasie weergegee.”
Intussen het Cosatu in die Wes-Kaap die ANC en opposisiepartye gevra om 'n mosie van wantroue teen Zille in te stel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA