ANC kry swaargewig-span vir Malema-tugverhoor
2011-08-23 09:00
Kaapstad. – Die ANC het ’n swaargewig-span saamgestel om sy jeugligaleier en -woordvoerder se tugverhoor te hanteer.
Julius Malema en Floyd Shivambu verskyn volgende Dinsdag en Woensdag voor ’n tugkomitee.
Die ANC het hulle verlede Vrydag daarvan aangekla dat hulle die ANC-grondwet oortree het, met hul uitsprake oor Botswana die party in oneer gebring het en onmin in die party gesaai het.
Die jeugliga het Sondag ná ’n buitengewone vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) sy volle steun agter die twee ingegooi. Luidens ’n verklaring het die liga gesê hy is oortuig dat die klagte teen die twee “politieke kwessies” is wat in ANC-strukture bespreek moet word.
Magdalene Moonsamy, ook ’n ANC-jeugligawoordvoerder, wou nie uitwei oor berigte dat “massa-optrede” vir die dae van die tugverhore beplan word nie.
Die jeugliga het ’n “dringende vergadering” met die ANC aangevra om dié kwessies te bespreek.
Keith Khoza, ANC-woordvoerder, het Maandag gesê hy is nie seker wanneer die vergadering gehou sal word nie. “Die buitengewone NUK-vergadering het tot laataand gesit en is vanoggend vroeg hervat. Die lede moet nog oor die versoek besin.”
Die lede van die tugkomitee sluit in Derek Hanekom, voorsitter van die ANC se tugkomitee en adjunkminister van wetenskap en tegnologie, Febe Potgieter-Gqubule, NUK-lid, Ayanda Dlodlo, adjunkminister van staatsdiens en administrasie, Collins Chabane, minister in die presidensie, en Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger