ANC klap die sweep vir jeugliga
2011-08-02 07:09
Kaapstad - Die ANC het Maandag met die sambok ingespring onder sy jeugliga nadat laasgenoemde se leier, Julius Malema, woes teen die regering van Botswana uitgevaar het.
Die jeugliga het onder meer ’n beroep gedoen vir ’n “regime-verandering” in Botswana nadat sy uitvoerende komitee die naweek in Johannesburg vergader het.
Malema het in ’n kwalik bedekte klap na pres. Jacob Zuma gesê die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is van koers af sedert oudpres. Thabo Mbeki nie meer staatshoof is nie.
Volgens Malema gaan die jeugliga ’n bevelspan vorm om opposisiemagte in Botswana te verenig ten einde die “marionet-regering” daar teen te werk.
In ’n sterk bewoorde verklaring het die ANC die jeugliga Maandag egter deeglik voor stok gekry – nie net oor Botswana nie, maar ook oor sy onlangse uitlatings rondom Libië en die Ivoorkus.
“Die ANC verwerp en berispe die jeugliga in die openbaar oor sy uiters ondeurdagte en beskamende uitlatings oor ’n ‘regime-verandering’ in Botswana,” lui ’n verklaring deur die party se woordvoerder, Jackson Mthembu.
Hy het hom ook gedistansieer van Malema se uitsprake dat die AU en SAOG van sy agenda begin afwyk het sedert Mbeki weg is en dat daar ’n afname in die twee organisasies se invloed is.
Volgens Malema maak die regerende Botswana Demokratiese Party (BDP) van die land ’n “voetstoel van imperialisme, ’n veiligheidsbedreiging vir Afrika en ’n marionet vir Amerika”.
Mthembu het gesê dié belediging teen pres. Ian Khama, wat spreek van minagting en ’n bedreiging vir stabiliteit inhou, is ’n “duidelike demonstrasie dat swak dissipline in die ANC-jeugliga nou ver verby sy perke gegaan het”.
“Dis nie deel van die ANC se kultuur om ons bure te destabiliseer nie,” het Mthembu gesê.
Hy het die jeugleier herinner aan die party se grondwet, wat lui dat die jeugliga as ’n outonome (maar nie onafhanklike) liggaam binne die oorhoofse struktuur van die ANC funksioneer.
“In teenstelling met die jeugliga se waarnemings is die AU en SAOG aan die voorpunt van vrede in Afrika en pogings om veiligheid te vestig van Zimbabwe en Madagaskar tot in Somalië en die Soedan, sowel as Libië en die Ivoorkus,” het Mthembu gesê.
Die jeugliga – wat vroeër Suid-Afrika se rol in Libië bevraagteken het nadat die Zuma-regering ten gunste van buitelandse ingryping in die Libiese konflik gestem het – het Sondag gesê toe Irak deur “imperialistiese magte” ingeval is, het Mbeki en die AU ferm teen dié magte gestaan.
In die Ivoorkus was oudpres. Laurent Gbagbo einde verlede jaar onder druk van Westerse lande, sowel as van die AU, nadat hy nie van die mag wou afsien nie ondanks ’n nederlaag in die verkiesing.
Volgens Mthembu verstaan die jeugliga nie die verwikkeldheid van die situasies in Libië of die Ivoorkus nie.
Die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, was nie Maandag vir kommentaar beskikbaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger