ANC kies Manyi se kant bo Manuel
2011-03-03 07:07
Kaapstad - Die ANC het Woensdagaand Jimmy Manyi se kant gekies en Trevor Manuel se skreiende kritiek op dié regeringswoordvoerder verwerp.
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het by navraag gesê: “(Ons) stem nie met die inhoud (van Manuel se ope brief aan Manyi) saam nie, dis ongelukkig. Manuel het nie vooraf met my gekonsulteer of dit bespreek nie.”
Die rassestorm wat om Manyi se kop losgebars het, blyk die regerende party en die kabinet in aanloop tot die plaaslike verkiesing te verdeel.
Aan die een kant is ’n groepering wat dankbaar is Manuel het die “demokratiese beginsels binne die ANC opnuut neergelê” en aan die ander kant sit ’n groepering wat meen dié senior minister in die presidensie het te ver gegaan.
Pres. Jacob Zuma het Woensdagaand gemaan teen rassepolitiekery en om selfbeheersing gevra. “Geen persoon of groep moet ras vir politieke gewin gebruik nie,” het hy deur sy woordvoerder, Zizi Kodwa, laat weet.
Dit volg op ’n venynige teregwysing van Manyi deur Manuel wat Woensdag in koerante van die Independent-groep gepubliseer is.
Hy het Manyi beskryf as net so ’n rassis soos wat dr. H.F. Verwoerd was, sy denke vergelyk met dié van apartheidsoperateurs en sy gedrag as dié van die “ergste rassis” bestempel.
Manuel se brief is in reaksie op Manyi se uitlatings in Maart verlede jaar dat daar ’n “oorkonsentrasie” bruin mense in die Wes-Kaap is.
Dít, tesame met bepalings in voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming wat glo tot een miljoen bruin werksverliese in dié provinsie kan lei, het ’n politieke herrie veroorsaak.
Manyi het Woensdagaand gesê hy het nie vroeër die dag by die kabinetsvergadering in die Uniegebou met Manuel gepraat nie. “Ek beplan nie om die inhoud van die brief met hom te bespreek nie.”
Manuel volstaan volgens sy woordvoerder by die brief.
Buiten die ANC, het die ANC-jeugliga en die Black Management Forum (BMF), van wie hy die president is, om Manyi laer getrek. Daar is egter terselfdertyd toenemende ontevredenheid binne die kabinet, senior regeringskringe, LP’s en staatsamptenare oor Manyi. Boonop het Zwelinzima Vavi, Cosatu-hoofsekretaris, hom ook vierkant agter Manuel geskaar.
Daar is te midde van navrae uit diplomatieke kringe oor Manuel se toekoms, ook gegis oor sy motivering en hoeveel steun hy binne die regerende alliansie geniet. Hoewel daar wyd met die inhoud van die brief saamgestem word, lyk dit nie of Manuel openbare en prominente steun gaan kry nie.
’n Ingeligte het bevestig: “Manuel het dit vir die ANC moeilik gemaak om hom te verdedig omdat hy sy griewe, strydig met tradisie, in die openbaar gelug het.”
Volgens hom was Zuma se keuse van Manyi as kabinetswoordvoerder “uit die staanspoor swak”.
Vusi Mona, Manyi se adjunk by die Regeringskommunikasiediens (GCIS), het te midde van nóg onthullings oor Manyi-uitlatings – dié keer oor Indiërs – volgehou Manyi bly aan as regeringswoordvoerder.
Die DA het ’n klankgreep uitgereik oor ’n toespraak van Manyi voor die Durbanse sakekamer in Februarie 2010. Hy het toe as direkteur-generaal van arbeid gesê: “Indiërs...ons is veronderstel om net 3% in bestuursposte te hê. Hulle sit op 5,9%...Indiërs het hul pad boontoe beding.”
Manuel het in sy brief aangevoer Manyi se optrede maak dit moeilik vir hom en sy kollegas binne die ANC om te verduidelik wat die redes vir die wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming is.
’n Duidelike briesende Manuel het Manyi se betrokkenheid by die struggle ook bevraagteken: “Terloops, wat het JY in die oorlog gedoen, Jimmy?”
Manuel sinspeel daarop hy is bereid om ’n prys vir dié brief te betaal. “Ek verklaar my bereidwilligheid om opofferings te maak ter verdediging van die Vryheidsmanifes se inleiding dat ‘Suid-Afrika behoort aan almal wat hierin woon’.”
- Volksblad