ANC kap terug oor Malema
2009-10-05 16:35
Johannesburg- Die ANC het Maandag teruggekap nadat die VF+ hulle aangemoedig het om dissiplinêre stappe teenoor Julius Malema en die ANC-jeugliga (ANCYL) te neem.
Volgens Brian Sokutu, ANC-woordvoerder, is dissiplinêre optrede teenoor lede van die party ‘n interne saak en kan niemand hulle aansê wat om te doen nie.
“Indien optrede nodig is sal ons self daaroor besluit, nie omdat enigiemand anders ons aansê om dit te doen nie,” het Sokutu gesê.
Hy het ook gesê dat die ANC se standpunt oor ras duidelik was en dat hulle alle rasse verteenwoordig en ondersteun.
Die VF+ het die ANC aangeraai om Malema, asook die ANCYL aan te vat na kontroversiële uitsprake deur Floyd Shivambu, die ANCYL se woordvoerder.
Volgens Rapport het Shivambu glo gesê dat die meeste wit mense rassiste is en dat hulle nie die oorwinning van Caster Semenya vier nie omdat sy nie wit is nie.
–Sapa