ANC kap FNB oor 'politieke stelling'
2013-01-21 13:10
Johannesburg – Die ANC het Eerste Nasionale Bank (FNB) se advertensies, wat vra vir verandering in Suid-Afrika, gekap, terwyl die party se jeugliga sê die veldtog grens aan hoogverraad, berig Mail & Guardian.
"Dit is nie 'n advertensie nie. Dit is 'n politieke stelling. 'n Aanval op die president, sy ministers en die regering," het Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, aan die koerant gesê.
FNB het sy You can help-handelsmerkveldtog verlede week deur 'n reeks aanlynvideo's in Soweto vrygestel. In dié video's deel Suid-Afrikaanse jeug hul mening oor die land.
Die meerderheid van die jeugdiges wat aan die veldtog deelgeneem het, het gesê die land se uitdagings strek van werkloosheid tot die hoë misdaadsyfer.
Die bank het gesê die veldtog was 'n boodskap wat die "nasie sou inspireer".
"Die doel van die veldtog is nie om oor onsself te praat nie, maar eerder om 'n handelsmerk te wees vir verbetering deur aan die jeug 'n plaform te gee om te sê wat die daaglikse realiteite van baie Suid-Afrikaners is," het Bernice Samuels, hoof-bemarkingsbeampte van FNB, gesê.
Die regerende party meen egter die veldtog is onregverdig en onpatrioties.
"FNB gebruik kinders onregverdig om menings te verwoord, wanneer ons nie eers weet of dit hul eie is nie," het Khoza gesê.
Die ANC-jeugliga het op sy beurt gesê die veldtog "verklaar oorlog op die demokraties verkose regering van Suid-Afrika".
"Sakelui het baie geleenthede gekry om kwessies om die ANC te bespreek, maar om dit op 'n openbare platform te doen, op so 'n manier is verraderlik en grens aan hoogverraad," het Khusela Sangoni-Khawe aan die koerant gesê.
Kyk hier na die advertensie:
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter