ANC kan SA sink – Zille
2012-09-27 22:45
Kaapstad – Strydende faksies op die "sinkende skip" van die ANC hou ‘n dreigende ramp in wat Suid-Afrika sal moet hanteer, het Helen Zille, leier van die DA, Donderdag gesê.
“Die skeuring in die hartjie van die regering is die hoofoorsaak van onregeerbaarheid (sic),” het sy aan die Kaapstad-persklub gesê.
Dit sal lei tot ‘n inploffing in die ANC wat die politieke landskap vir die volgende sewe jaar sal domineer.
“Wanneer jy op ‘n brandende platform is, is jy in ‘n resies teen tyd... In politiek is die instinktiewe reaksie op ‘n brandende platform ontkenning,” het Zille gesê.
Die ANC gebruik “politieke plastiek waterkanne” om die vlamme in sy drieledige alliansie te blus.
Sy sê hierdie korttermyn-siening staan in die pad om by die krisis van ekonomiese uitsluiting, werkloosheid, armoede en ongelykheid uit te kom.
Elke krisis, van handboeke wat nie in Limpopo afgelewer word nie tot die skietdood van mynwerkers in Marikana, verbreed die skeiding tussen populiste en konstitusionaliste in die party.
Die ANC-kolos staan onaktief in die middel en word na beide kante getrek, maar kan nie na enige kant beweeg sonder om inmekaar te stort nie,” het Zille gesê.
Elke burger sal moet besluit of hy saam met die populiste wil staan, wat die land tot in die “afgrond” sal dryf; of saam met die konstitusionaliste, wat vir vier kern-beginsels sal veg.
Hulle is: die verdediging van die grondwet, die koestering van werklike nie-rassisme, die groei van ‘n markgedrewe ekonomie en die bou van ‘n staat wat bekwaamheid bo party-lojaliteit plaas, het Zille gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA