ANC kaartjie na hemel
2011-02-07 07:02
Gloria Edwards en Rajaa Azzakani
Johannesburg en Kaapstad - Die hel is los in politieke en kerkkringe oor ’n uitlating van pres. Jacob Zuma dat ’n stem vir die ANC jou in die hemel sal kry.
Helen Zille, DA-leier, is woedend oor Zuma se uitlating dat ’n stem vir die opposisie ’n stem vir die duiwel is.
“Daar is net een God en Hy het ons almal lief,” het Zille Sondag tydens ’n besoek aan Mamelodi, oos van Pretoria, as deel van haar munisipale verkiesingsveldtog gesê.
Zuma het Vrydag volgens die Sunday Times aan voornemende kiesers in Mthatha in die Oos-Kaap gesê ’n stem vir die ANC is ’n kaartjie hemel toe.
“Wanneer jy vir die ANC stem, kies jy ook om hemel toe te gaan. Wanneer jy nie vir die ANC stem nie moet jy weet jy kies daardie man wat die vurk dra.
“Wanneer jy ’n ANC-lidmaatskapkaart dra is jy geseën. Wanneer jy daar bo kom, word verskillende kaarte gebruik, maar wanneer jy ’n ANC-kaart het sal jy in die hemel deurgelaat word.”
Mense het hom toegejuig en hy het luidens die berig bygevoeg: “Wanneer (Jesus) ons kom haal sal ons vind diegene (in die hiernamaals) dra swart, groen en goud... die heiliges behoort aan die ANC.”
Zille het gesê Zuma se uitspraak is “’n misbruik van sy mag en anti-demokraties”. Dis ook “godslasterlik, intimiderend en ’n dreigement aan voornemende kiesers”.
Dit is nie die eerste keer dat opposisiepartye en veral Christene aanstoot neem oor Zuma se uitsprake nie.
Hy het in 2009 herhaaldelik voor die algemene verkiesing gesê die ANC sal heers tot Jesus kom.
Volgens Eddie Makue, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), maak Zuma die idee van hemel toe gaan “goedkoop” deur dit met ’n stem vir die ANC te vergelyk.
“Ons is erg ontstel daardeur. Nie eens ons as kerke kan waarborg wie gaan hemel toe nie. Dis nog meer ontstellend dat só ’n belofte vir ’n verkiesingsveldtog gebruik word. ”
Die DA, Cope en ACDP eis ’n onvoorwaardelike verskoning van Zuma.
Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het gesê die party is teleurgesteld en geskok dat Zuma Christene se “geloof ondermyn”.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, meen Zuma het ’n metafoor gebruik. “Baie ou mense doen dit. Hy het bedoel die ANC se beleid is so goed dat wanneer mense vir dié party stem, hulle sal voel asof hulle in die hemel is.”
Oor Mthembu se verduideliking van metafore het Meshoe gesê: “Hulle lieg, man. Tata Nelson Mandela is baie ouer as pres. Zuma en hy het nooit metafore gebruik nie. Dit is goedkoop, aanstootlike politiek om ander partye met die duiwel te vergelyk.”
- Volksblad