ANC-jeugliga ‘minag hofbevel oor toilette’
2010-12-08 07:40
Die Burger
Kaapstad - Of die 65 toilette in Makhaza opgerig en toegebou word of nie, belastingbetalers van Kaapstad sal die kontrakteur se rekening van R600000 moet betaal.
En die betaling is steeds nutteloos nadat die ANC-jeugliga gister wéér die Kaapse stadsraad verhinder het om die toilette en hout- en sinkplaatstrukture rondom die toilette op te rig.
Die Kaapse stadsraad het weer gisteroggend probeer om ’n hofbevel van regter Nathan Erasmus in die Wes-Kaapse hooggeregshof uit te voer. Erasmus het beslis die 65 toilette wat vroeër vanjaar deur die munisipaliteit verwyder is, moet weer opgerig en aan die rioolstelsel gekoppel word.
Dié toilette moet ook tydelik met hout- en sinkplaatstrukture toegemaak word.
Die ANC-jeugliga het gister al teen 04:00 begin om die toegangsroete na Makhaza te versper.
Die kontrakwerkers van die Kaapse stadsraad kon nie eens begin met hul dagtaak om die toilette op te rig nie. Volgens Andile Lili, provinsiale tesourier van die jeugliga, het die stadsraad nie by die hofbevel gehou om eers die inwoners se mening te kry oor die oprigting van die strukture nie. Daarom is daar besluit om die stadsraad weer gisteroggend te verhinder om die toilette op te rig.
“Dit is ’n totale minagting van die hofbevel,” het Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, die ANC-jeugliga se optrede beskryf.
Hy het gesê daar is nou reeds twee keer probeer om die hofbevel uit te voer en die stadsraad gaan nié ’n derde keer terug nie. “Ons gaan ons geld en tyd mors.”
Plato het uitgevaar teen die ANC-jeugliga en gesê dit is nié hoe ware leiers optree nie. “Ek sidder as ek dink aan die dag dat hulle die nuwe leiers van die land word,” het Plato gesê.
Hy het bevestig daar is ’n tender toegestaan vir die werk en die kontrakteur moet betaal word of die toilette staan of nie.
Die Kaapse stadsraad het ook in ’n verklaring gesê die ANC-jeugliga se optrede is nie in die belang van die inwoners wat nou gemeenskaplike toilette moet gebruik nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger