'ANC is baken vir die wêreld'
2012-01-08 11:42
Londen – David Cameron, premier van Brittanje, sê die ANC is ‘n “baken vir die wêreld” in die party se stryd teen diskriminasie en onderdrukking.
“Namens die Britse mense wil ek jou en almal wat by die African National Congress betrokke is, gelukwens met hierdie spesiale herdenking,” het Cameron in ‘n brief aan pres. Jacob Zuma geskryf.
“Die African National Congress is ‘n baken vir die wêreld in die geveg teen diskriminasie en die stryd vir vryheid van onderdrukking...” lui die brief.
Hy het bygevoeg dat die party vir die regte van alle Suid-Afrikaners geveg het.
Cameron sê ook dis “ongelooflik om die verandering in Suid-Afrika te sien.” Hy meen die ANC het gehelp om dié veranderinge aan te bring.
Sapa berig duisende ANC-lede word Sondag in Bloemfontein verwag om die laaste dag van die party se eeufeesvieringe by te woon.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP