ANC in Limpopo steun nasionalisering
2011-12-20 22:55
Polokwane – Die ANC in Limpopo het Dinsdag sy oproep om nasionalisering van myne en onteiening van grond sonder vergoeding benadruk.
Lede is daarvan oortuig dat die beëindiging van privaateienaarskap van ekonomiese hulpbronne sal help om die droom van "ekonomiese bevryding" te verwesenlik.
"Ons benadruk ons oproep om nasionalisering van myne en ander strategiese sektore soos Sasol en ArcelorMittal," het Soviet Lekganyane, nuutverkose provinsiale voorsitter, by die Universiteit van Limpopo se Turfloop-kampus buite Polokwane gesê.
Lekganyane het van die deklarasie, wat later by die konferensie aanvaar is, gelees en gesê: "Alle produktiewe grond moet genasionaliseer word. Vergoeding moenie op die grond self betaal word nie, maar op die verbeterings. Die prys moet deur 'n evalueerder van die staat bepaal word."
Dié stappe is nodig om die ekonomie te "demokratiseer", het hy gesê.
Afgevaardigdes het besluit dat "demokratiese" toegang tot ekonomiese hulpbronne wat deur die staat beheer word, een van die bestanddele van "ekonomiese bevryding" is.
Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, staan aan die spits van die debat oor nasionalisering, te midde kritiek van die opposisie en landbouliggame wat vrees dat dit ondermeer buitelandse beleggings sal beïnvloed. Die regering hou egter vol nasionalisering is nie regeringsbeleid nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA