ANC-hoofsweep vaar uit teen LP oor aanval
2011-09-28 18:56
Johannesburg – Openbare verteenwoordigers moet te alle tye eerbaar optree, het die ANC-hoofsweep Mathole Motshekga Woensdag gesê.
Motshekga het sy kommer uitgespreek oor ‘n fisieke skermutseling tussen die ANC-LP Litho Suka en ‘n vroulike motorbestuurder.
“Die konfrontasie, wat voorafgegaan is deur ‘n ongeluk waarby albei partye se motors betrokke was, het gewelddadig geraak toe mnr. Suka die vrou fisiek aangeval het,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Suka het intussen ‘n geskrewe verduideliking van wat gebeur het aan Motshekga se kantoor gestuur, waarin hy sy spyt oor die voorval uitspreek. Motshekga het gesê openbare verteenwoordigers moet te alle tye op ‘n eerbare manier optree wat pas by die pos wat hulle beklee.
“Ons veroordeel dus in die sterkste terme enige vorm van wangedrag of geweld teenoor enige persoon en veral vroue, wat steeds die slagoffers van geslagsgeweld is in ons samelewing.”
Motshekga het gesê hy sal met Suka vergader vir ‘n omvattende verslag oor die voorval.
Die Herald-koerant het Dinsdag berig dat Suka na bewering Nolusindiso Mazantsi (35) geslaan het nadat hy haar daarvan beskuldig het dat sy agteruit teen sy motor vasgery het by ‘n motorwassery in KwaZakhele, Port Elizabeth, verlede week.
Mazantsi het in dié stadium haar tweejarige dogter, Lihle, by haar gehad.
Toe Suka deur die koerant vir kommentaar genader is, het hy gesê: “Sy [Mazantsi] het op my gevloek en my gevra wat ek gaan doen daaraan [die ongeluk]. Ek het kop verloor en haar geklap.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA