ANC-hoë sterf in hospitaal ná ongeluk
2012-03-05 09:00
Welkom – ’n Lid van die burgemeesterskomitee van Matjhabeng en hooggeplaaste in die Vrystaatse ANC en ANC-vroueliga, Elisa Lande, is Sondagoggend in ’n motorongeluk buite Welkom dood.
Lande en haar een seun was saam in die motor toe sy op die pad tussen Welkom en Virginia beheer daaroor verloor en dit omgeslaan het. Albei is met ernstige beserings na die hospitaal gebring waar mev. Lande kort daarna oorlede is.
Sers. Tlalanyane Pakela, polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het omstreeks 10:40 naby die Bambanani-goudmyn plaasgevind.
Volgens Pakela is die jong man wat saam met Lande in haar motor was, van in die twintig. Die polisie het nog geen ongeluksverslag met persoonlike inligting nie.
Lande, Matjhabeng-raadslid en lid van die burgemeesterskomitee belas met plaaslike ekonomiese ontwikkeling en beplanning, het ook in die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in die Vrystaat gedien.
Modise Mahlatsane, woordvoerder van Matjhabeng, het Sondag bevestig ’n raadslid is dood, maar wou nie ’n naam of enige ander besonderhede bekend maak nie. Hy sê dit is te gou ná haar dood.
Nie Sebenzile Ngangelizwe, uitvoerende burgemeester van Matjhabeng, of Mathabo Leeto, burgemeester van Lejweleputswa en vorige voorsitter van die ANC in die streek, was Sondag vir kommentaar bereikbaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad