'ANC het sy nalatenskap verraai'
2012-03-23 11:01
Johannesburg – Die huidige leierskap van die ANC het dié organisasie se nalatenskap verraai, het die akademikus Mamphela Ramphele volgens berigte in Oos-Londen gesê.
Die regerende party se voortgesette aanvalle op die Grondwet is die bewys hiervoor, het Ramphele volgens die Daily Dispatch gesê. Sy het dié uitlating Dinsdag by die Guild-teater in Oos-Londen gemaak.
Ramphele het 'n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op te hou om “passiewe onderdaniges” te wees en om aktiewe burgers te word omdat die Grondwet volgens haar bedreig word.
“Daar is genoeg kommer oor die uitlatings van die ANC-leiers en regeringsamptenare om dit duidelik te maak dat alles nie reg is met ons demokrasie nie," het sy gesê.
“Daar is 'n botsing in waardes tussen diegene wat glo in die belangrikheid van ons konstitusionele demokrasie en diegene wat dit sien as 'n struikelblok in die pad van die tweede oorgangsperiode.”
Geen demokrasie kan sonder aktiewe burgers oorleef nie, het Ramphele gesê. Sy het egter ook benadruk dat die meeste Suid-Afrkaners passiewe toeskouers is.
“Ons sit terug en verwag van die regering om diens te lewer en, as hulle dit nie doen nie, is ons enige uitweg om – in die beste geval – te betoog in die strate, en – in die slegste geval – om 'n plaaslike kliniek of skool af te brand."
Aktiewe burgers brand nie biblioteke en klinieke af nie, het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA