ANC het nie gereël vir kos, verblyf
2012-01-07 07:33
Bloemfontein – Meer as 200 ANC-ondersteuners wat in Bloemfontein is vir die party se eeufees, moet in busse slaap nadat die ANC glo nagelaat het om verblyf en kos vir hulle te reël.
Die busse, wat die vrywilligers van Noordwes, Gauteng en KwaZulu-Natal vervoer het, is in King Edward-weg gestrand.
Intussen het ANC-leiers slegs 2 km van hulle in Tweede Laan langs hul duur motors gekuier en in eetplekke gesmul.
Die vrywilligers wat in die Vrystaat-stadion sou diens doen, is glo ingelig dat die party vir hul verblyf in die stad sou sorg.
Veel meer as 100 000 ondersteuners word tot Sondag in die stad verwag.
Ingeligtes het aan Volksblad gesê die groep se leiers het heeldag met die verblyfspan in die stad gepraat, maar hulle is van bakbood na stuurboord gestuur.
“Die ANC het nie vir hul verblyf betaal nie,” het die ingeligte gesê.
Die groep het ook geen kos gehad nie. Hulle kry wel een maaltyd ’n dag.
Die mense het al begin om inwoners in die gebied te smeek vir slaapplek en om te bad.
Die gestrande ANC-lede wou nie met die media praat nie.
’n Eienaar van ’n woonstelblok in Bloemfontein wat anoniem wil bly, sê hy het slaapplek aan 240 mense gebied. Daar was verskeie bejaardes tussen hulle.
Die sakeman sê die ANC het nagelaat om vir die mense se verblyf te betaal.
“Niemand gee vir hulle om nie.”
William Bulwane, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, sê Thabo Manyoni, die uitvoerende burgemeester, gee aandag aan die saak. Teen laatmiddag was die mense steeds gestrand.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad