ANC geskok oor kinderverkragting
2013-02-23 15:00
Johannesburg – Die ANC het gesê hy is geskok en stomgeslaan deur die verkragting van 'n tweejarige kleuter in Tzaneen in die Limpopo-provinsie, het die regerende party in 'n uitgereikte verklaring gesê.
Die kind is na bewering verlede Saterdag deur 'n vriend van haar pa verkrag.
Brigadier Hangwani Mulaudzi het gesê die 29-jarige man het haar na die bosse geneem, verkrag en toe op die vlug geslaan.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het 'n beroep op mans in Suid-Afrika gedoen om 'n standpunt te neem.
"Ons vra al die mans in ons gemeenskappe om 'n standpunt in te neem teen verkragting en geweld."
'n Woordvoerder vir die polisie in Tzaneen, Masenyani Makhubele, het bevestig dat die verdagte Woensdag in hegtenis geneem is.
"Hy sal Maandag in die landdroshof in Tzaneen verskyn," het Makhubele gesê.
Die ANC se vroueliga het gesê die vermeende verkragter moet nie borgtog kry nie.
"Die vroueliga vra vir strenger vonnisse vir verkragters en 'n veroordeelde kinderverkragter moet nooit toegelaat word om weer in die gemeenskap vrygelaat te word nie," het die liga se woordvoerder, Troy Martens, gesê.
Brigadier Mulaudzi het gesê die kind is steeds in 'n kritieke toestand in die hospitaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA